Alternatiewe energie potensiaal vir Argentinië

Wind potensiaal in Argentina

Alternatiewe Energie is huidiglik wêreld-wyd ‘n populêre tema.

Vir baie lande is die gebruik van fossielbrandstowwe egter steeds goedkoop genoeg dat alternatiewes nie op groot skaal geïmplimenteer hoef te word nie. Verder bestaan daar natuurlike beperkings soos oppervlak en klimaat wat  energieverskaffing vanaf alternatiewe energie bronne baie beperk.

Argentinië, in kontras, is ‘n land met die moontlikheid om ‘n verskeidenheid van alternatiewe energie bronne, tans wêreldwyd aan die groei, op groot skaal te ontwikkel.

Argentinië het ‘n oppervlakte van 2,766,890 vierkante kilometer (1,068,302 vierkante myl) en ‘n kuslyn van 4,989 kilometer (3,100 myl). Die land strek 4,650 kilometer (2,889 myl) van Noord na Suid en 1,430 kilometer (889 myl) van Oos na Wes.

Argentinië se klimaat wissel van subtropies in die noorde tot sub-antarktiese klimaat in die suide waar baie van die Antarktiese ekpedisies vandaan geloods word.

Die groot verskeidenheid klimaat tipes en verskeidenheid geografie tipes laat toe om byna alle tipes elektriese kragopwekking te ondersoek. Baie is reeds geïmplimenteer en soos die vraag na ekovriendelike-energie bronne groei is dit seker dat nuwer tegnologië ‘n plek in Argentinië sal vind.

Verskeie sterkvloeiende riviere word gebruik om groot damme te voed en hidro-elektriese krag stasies is redelik algemeen. Wind-energie is ‘n ander bron wat vrylik beskikbaar is danksy die geografie van die land, veral in die Patagonië streek.

Son-energie is ook volop met groot dele van die land wat voldoende sonskyn dae ervaar. Huidiglik is hierdie tegnologie egter beperk tot verafgeleë areas.

Argentinië toon ‘n groot potensiaal om ‘n beduidende vervaardiger van biobrandstof te word. Groot hoeveelhede bewerkbare grond laat toe vir ‘n reuse landbou bedryf. Die land het ook ‘n oorvloed natuurlike gas reserwes en daar word op ‘n gereelde basis nuwe reserwes gevind. Nogtans word biogas reeds ondersoek vir potensiale ontwikkelinge om die negatiewe uitwerking van bv. voerkrale op die omgewing teen te werk. (Argentinië het net minder as 55 miljoen beeste sonder om nog die ander vee-soorte ook te noem.)

Argentinië is ook ‘n land met ‘n groot potentiaal vir geotermiese kragopwekking. Danksy die foutlyn wat langs die rand van die Suid Amerikaanse tektoniese plaat loop, is daar ‘n oorvloed vulkane wat aktief is so wel as warmwater-bronne wat kragopwekking potentiaal behou.