In Argentinië Waai Winde vir Alternatiewe Energie


Wind Energie om 4% van Argentynse energie te verskaf teen 2017

Argentinië is ‘n land wat groot potensiaal besit vir windenergie. Meer as 70% van die land het windsnelhede van meer as 6m/s volgens die Argentynse Raad vir Hernubare Energie. In Patagonië is die gemiddeld nog hoër met winde van tussen 9 en 12 m/s.

Alhoewel daar groot potensiaal in Argentinië is vir hierdie vorm van energieopwekking, is daar tot dusver relatief min gedoen in hierdie sektor. Dit is gedeelteliks as gevolg van die land se ekonomiese verlede en Europese en Amerikaanse banke se ongewilligheid om geld te leen nadat Argentinië op sy skuld versuim het in 2001. Hierdie werklikheid bemoeilik natuurlik ook nuwe buitelandse beleggers om die mark binne te tree.

Daar is egter ook tekens dat die situasie aan die verander is aangesien die Argentynse maatskapy, Generadora Eolica Argentina del Sur SA, in die proses is om ‘n windplaas te ontwikkel wat die grootste in Suid Amerika sal wees wanneer dit voltooi is. Dit sal met ‘n opwekkingskapasiteit van 1350MW spog, meer as 4 keer grooter as die 306MW groep turbines in Mexico. Dit word verwag dat die projek in 2017 voltooi sal wees.

Die projek is in die provinsie van Río Negro geleë en sal 45 000 hektar se landsoppervlakte beslaan. Om dit met die nasionale krag stelsel te koppel sal ‘n kraglyn van 295km gebou moet word. Danksy die ligging van die projek, ongeveer 400km van die naaste hawe, sal groot infrastruktuur op die perseel ontwikkel word om kontrakteurs en werknemers te huisves gedurende die boufase van die projek.

Die projekkoste word op $3,5 miljard beraam en is grootliks moontlik danksy ‘n lening deur die China Development Banking Corporation. Die turbines word ook in China vervaardig en verantwoordelikheid vir die konstruksie is aan die Beijing Construction Engineering Group toegeken.

Die eerste 150MW word verwag om in 2015 beskikbaar te wees en wanneer die projek klaar is sal 4% van die land se elektrisiteit afkomstig wees van hierdie ontwikkeling. Hierdie is ‘n merkwaardige tree in die rigting van die regering se mikpunt om teen 2016 ‘n totaal van 8% van die land se energie deur alternatiewe energiebronne te genereer.

Die Argentynse regering het ook begin om al die verskeie areas van wind energie op ‘n nasionale vlak te ontgin. Daar is aan ‘n plan begin werk met Argentynse besighede in die hierdie energie sektor wat kan lei tot 10 000 meer werksgeleenthede deur tot en met 500 nuwe plaaslike verskaffers vir die industrie te ontwikkel.