Claas vervaardig stropers vir Afrika en Suid Amerika in Argentinië

Claas het pas aangekondig dat hulle teen die einde van die jaar hulle fabriek in Argentinië gaan opgradeer om ‘n wyer verskeidenheid produkte plaaslik te vervaardig en van hier af uit te voer na Brazil, Suid Amerika en Afrika.

Claas Argentinië

Met die onlangse bekendstelling van die grootste stroper in die wêreld op Palermo skou in Buenos Aires, die Lexion 780 met sy 600 HP Mercedes Benz enjin het hierdie Duitse vervaardiger hulle planne aangekondig.

Die presiese model is nog nie bekend gemaak nie maar wat Postacchini, Claas se plaaslike adjunkbestuurder, wel verduidelik het is dat dit ‘n middelgrote stroper gaan wees met ‘n enjinsterkte van tussen 270 en 360 HP. Claas beplan om 800 stropers per jaar hier te vervaardig waarvan 400 vir die Braziliaanse mark is, 200 vir die plaaslike mark en die res vir hulle mark in Afrika.

Claas se aanleg naby Oncativa gaan met nog 20 000m2 vergroot word om hierdie projek moontlik te maak asook om voorsiening te maak vir ‘n verhoging in die hoeveelheid stropers van die bestaande Tucano reeks wat reeds hier voltooi word.

Die Claas bestuur het met hierdie aankondiging duidelik gemaak dat hulle vertroue het in Suid Amerika as ‘n mark vir hulle produkte en Argentinië as basis vir hulle produksie.