Geenbewerking (die Argentynse metode vir volhoubare bewaringsboerdery)
Inleiding
Dit is belangrik om graan en voer te verbou met ʼn produksiestelsel wat hoë produktiwiteit en mededingendheid verseker, en wat op die lang termyn werk en omgewingsvriendelik is.
Die graanproduksiepotensiaal in ʼn sekere gebied word bepaal deur beskikbare hulpbronne soos sonskyn, temperatuur, grondvrugbaarheid en die beskikbaarheid van water. Hoe ons water bestuur is die sleutelfaktor, veral in die droëlandgebiede.
Die verbouing van gewasse met konvensionele bewerking verhoog waterverliese deur verdamping (onproduktiewe gebruik van water) en verminder die grond se organiese materiaalinhoud; beide prosesse beïnvloed die mededingendheid en volhoubare gebruik van grond direk.
Geenbewerking is ʼn stelsel om gewasse te verbou sonder om die grond deur bewerking te versteur. Deur oesreste oor die oppervlak van die grond en die gewaswortels in die grond te laat, kry gewasse die kans om biologiese, chemiese en fisiese grondeienskappe te bou en te verbeter – dit is veral belangrik vir die ontwikkeling en stabilisering van ʼn poreuse netwerk wat as die “long” van die grond funksioneer.
Hierbenewens vind die strooi-ontbindingproses onder Geenbewerking-toestande plaas soos wat dit onder natuurlike toestande sou gebeur.
Belangrikste kenmerke van die Geenbewerkingsproses
a) Geen fisiese versteuring van die grond (braak van die grondstruktuur): Die hoofdoel van die bewerking is die onderdrukking van onkruidgroei om ʼn gunstige omgewing vir gewasse te bied.
b) Grondkombers: Die proses van Geenbewerking vereis ʼn permanente bedekking oor die grond. Hierdie laag verbeter waterbalans en voorkom water- en winderosie.
c) Chemiese onkruidbeheer: Die proses is heeltemal afhanklik van die spuittoerusting van onkruiddoders om onkruid uit te roei of om te verhoed dat hulle op kom. Onkruid ding suksesvol met gewasse mee om water en voedingstowwe. Die doeltreffendheid van onkruidbeheer word versterk deur wisselbou as gevolg van die wisseling van onkruiddoders en verskillende groeiseisoen van elke gewas.
Voordele van die Geenbewerkingproses
-
Verbeter die waterbalans vir gewasgroei: meer infiltrasie, minder verdamping, minder afloopwater
-
Verminder water-en winderosie
-
Verminder die grond se verlies aan organiese materiaal
-
Verbeter die biologiese aktiwiteit in die grond
-
Bied meer plantgeleentheid
-
Verminder korsvorming op die oppervlak
-
Maak dit moontlik om in gebiede te plant wat ongunstig is vir verbouing met konvensionele bewerking
-
Verhoog gewasproduksie en bring stabiliteit
-
Verhoog die trekker se gebruikslewe (66% vermindering in gebruik)
-
Verminder brandstofverbruik en verminder besoedeling
-
Vergroot die gebied wat per persoon bewerk word
-
Verminder die gebruik van masjinerie, verminder 55% in brandstofverbruik per hektaar teen die tradisionele bewerking (AAPRESID/INTA)
Vereistes:
a) Voorbereiding van die grond: Om bewerkingintervensie te verhoed nadat met Geenbewerking begin is, is dit in sommige gevalle nodig om die grond beide op die oppervlak en in die ondergrondprofiel voor te berei. Die belangrikste is:
-
Die grond moet deur bewerking so gelyk as moontlik gemaak word. Dit is nodig om vore wat deur masjinerie gemaak is te verwyder en die klonte en klippe wat oor die grond versprei lê op te breek.
-
Wanneer die teenwoordigheid van ʼn ondergrondse dorbank bespeur word, moet ons woelploeg om hierdie laag op te breek, wat wortelontwikkeling en die beweging van water moontlik sal maak.
b) Landboumasjinerie: Die saaimasjiene (planter) is die sleuteltoerusting in die Geenbewerkingsproses. Die planter moet ontwerp en gebou word vir werk onder veeleisende omstandighede. Dit moet die strooi sny, die voor maak, en die saad en die kunsmis behoorlik en met die minimum grondversteuring plaas.
Saaimasjiene moet oor die vermoë beskik om by verskillende situasies en agro-ekologiese streke en omgewings aan te pas.
Die planter word spesiaal vir optimale prestasie opgestel volgens die omgewing of ekologiese streek waar geplant moet word.
Die basiese beginsel van die plantery is die sny, verwydering en skoonmaak van die plek waar die saad geplant is.
c) Vermindering van onnodige masjinerieverkeer om grondverdigting te voorkom omdat dit die belangrikste oorsaak van poreusheidvermindering is. Poreusheid wat deur gewaswortels en grondfauna opgebou word, is van kardinale belang vir die beweging en stoor van water en lug. Wanneer daar dus met Geenbewerking verbou word, moet ons beheerde verkeer in die veld verseker en laedrukbande gebruik.
d) Wisselbou: Dit is nodig om die graangewasse (koring, gars, hawer, mielies, sorghum) in die wisselbou in te sluit om koolstofinhoud in die grond te verhoog en ʼn goeie deklaagdikte te hou. Gewasbeskerming word ook verbeter as ons ʼn verskeidenheid van gewasse plant, want ons moet dan verskillende plaagdoders gebruik en dit help weer om te keer dat die plaag weerstand teen die aktiewe middel opbou.
e) Chemiese onkruidbeheer: Die spuittoerusting speel die belangrikste rol. Dit is deel van elke proses in die toediening van chemiese onkruidbeheer en vloeibare kunsmis aan die gewasse.
Ten einde doeltreffende beheer te neem en skade aan ander gewasse te voorkom, moet ons werk wanneer weerstoestande geskik is. Temperatuur, humiditeit en windspoed is die belangrikste faktore om in ag te neem.
Hierdie dokument is deur INTA Manfredi opgestel en met hulle toestemming word dit hier weergegee.